Ma en dogter, slagoffers van plaasaanval

Northam – Priscilla Venter, 53, en haar moeder Esmè Venter, 74, is op Maandag 10 September, op die plaas Wildebeeslaagte net buitekant Northam oorrompel en wreed aangeval.
Priscilla en haar moeder het van die winkels af teruggekeer en was besig om die kruideniersware in die kombuis uit te pak, toe hulle met ‘n skerp voorwerp van agter aangeval is. Die voorwerp is later as ‘n graaf geïdentifiseer. Die aanvallers het te voet gevlug en spoorsnyers van die Heritage Protection Group (HPG) kon hul spoor tot so ver as drie villages anderkant Sefikile volg.
Nadat die verdagtes van die toneel gevlug het, het een van die slagoffers om hulp gaan soek. Die mediese personeel was baie vinnig op die toneel en albei slagoffers is geneem vir mediese behandeling by die Mediclinic in Thabazimbi en is later oorgeplaas na die Life Peglerae hospitaal in Rustenburg.
Priscilla het ‘n skedelbreuk opgedoen maar weens vog op die brein kon sy nog nie geopereer word nie. Esmè se arm is gebreek, maar weens haar lae bloeddruk kon daar ook nog nie op haar geopereer word nie.
Luitenant kolonel Moatshe Ngoepe het bevestig dat hulle tans besig is om die saak te ondersoek.
“Ons familie is nog in skok, dit maak mens seer hoe onskuldige mense moet ly,” het Rina Venter, Priscilla se skoonsuster, aan Platinum Bushvelder gesê.
